'n Jaar in oorsig: 2023

Waar is die jaar heen? Waar is inflasie heen?

Die rot-resies

Nou ja, 'n mens kan seker nie dat jare verby gaan voordat daar weer 'n plasing gemaak word nie... Ek sien nou eers dat die vorige inskrywing meer as 'n jaar gelede was. Dit is dalk maar net 'n aanduiding van die lewe. Swoeg en sweet vir werk en skeep jou eie lewe af. Seker iets wat baie mense mee sukkel maar dalk te trots is om te erken.

Ons is almal in die spreekwoordelike rot-resies, jaar in en jaar uit, en 2023 was geen verskil nie. Dit was 'n groot uitdaging met inflasie wat bly styg. Kos is nou 'n fortuin en ek wonder wat met die persone wat minimumloon ontvang gebeur. Ek kan nie kla nie, maar in die winkel skud ek net my kop en sê "nee" wanneer ek iets sien wat na my mening te veel opgegaan het. Daar is geen meer luukshede wanneer ek inkopies doen nie, en steeds is 'n week se kos ongeveer R 700 (US$ 38 op 2023-12-22), en dit is net vir een persoon. Dit is R 100 per dag. Ek leef spaarsamig sover moontlik. Dit beteken ook dat ek nie uiteet nie, en eerder self kos maak. Al is dit nie heeltemal so gerieflik nie, beteken dit my kos is vars gemaak, en as dit sleg is, kan ek niemand blameer nie.

As 'n mens kyk na wegneem kos, sal dit moeilik wees om minder as R 100 te spandeer vir 'n maaltyd. Dit is net vir die hoofmaal, sonder iets om te drink of nagereg. En dit is vir iets klein. 'n Pizza is maklik R 120. 'n Burger raak aan R 100. Selfs net "bagels" kan maklik R 70 wees. "Cream Crackers" het van R 20 na R 24 gespring - 20% op.

'n Tyd gelede het ek 'n artikel gelees waar daar gesels is oor sampioene wat gebruik word as 'n proteine alternatief, omdat dit blykbaar goedkoper is om te kweek. Maar wat in die winkels reflekteer is dat dit nie die geval is nie. Per gewig is sampioene dieselfde prys as vleis!

Ontspanning

Iewers moes ek probeer ontspan. Elke dag was 'n dag van intense fokus. Dan is ek nie lus vir ekstra projekte nie. My fokus is hierdie jaar beter aan die einde van die jaar, en mag ek met beter konsentrasie die nuwe jaar ingaan.

In die tye wat ek probeer ontspan het, het ek meestal maar Counter Strike op Steam gespeel. Daar was ook Stray, 'n speletjie oor 'n katjie. Teen November se kant het The Talos Principle II uitgekom... briljant!

The Talos Principle II

Web: https://www.thetalosprinciple.com/

Hierdie is een van my gunsteling speletjies ooit. Dit is 'n raaisel-spel en mens kan nie regtig die tweede deel speel alvorens jy nie deur The Talos Principle (eerste een) was nie. Daar is geen instruksies aan die begin nie, en jy moet self probeer uitvind hoe die speletjie verloop.

As jy hou van uitdagings en nie gou opgee nie, kan ek beslis hierdie aanraai. Dit verskaf ure en ure se uitdaging, fokus en genot.

Boeklees

2023 was 'n goeie jaar vir boeklees. Dit is seker die meeste wat ek oor die algemeen binne een jaar gelees het. En die meerderheid was stories.

André de Ruiter

  • Truth to Power (papier, klaar)

George Orwell

Boks-stel: (papier, klaar)

  • 1984
  • Animal Farm
  • Keep the aspidistra flying
  • A clergyman's daughter
  • Burmese days
  • Coming up for air

James Clear

  • Atomic Habits (papier, klaar)

Jordan B. Peterson

  • 12 Rules for Life (papier, besig)

Ryan M. Cleckner

  • Long Range Shooting Handbook (kindle, besig)

Peter Seibel

  • Practical Common Lisp (besig)

Paul Graham (YC)

Gesondheid

Ek het weer aan die gang begin kom met Parkrun en het weer onder begin. En daarmee bedoel ek loop, voordat ek kon loop, draf-stap en later die vol 5km draf.

Dit het baie inspanning gekos om aan die gang te kom, en om minder lui te wees. Nou het die einde van die jaar aangebreek en het ek weer ietwat spoed verloor, maar gaana nie heeltemal opgee nie. Ek moet beslis oorweeg wat ek eet en bewustelik minder inneem. Moeder wil my weer vol kos prop en ek moet spook om nie agter die lekker aan te eet nie.

Vasbyt en volhou om dit nie oor die kerstyd te oordoen nie.

Werksuitdagings

'n Intressante jaar agter die rug, met 'n kliënt wat besluit het om die databasis administreerder in die pad te steek weens finasiële uitdagings. Geen konsultasie proses was gevolg om by die span uit te vind hoe dinge aan die gang gehou gaan word nie, en op die ou-end het die warm pap in my skoot beland. Ja né... die een ding wat ek nie in my loopbaan wou word nie, word toe my grootste las. Vanaf April moes ek leisels oorneem wat die databasis betref, dit was stresvol genoeg. Later die jaar het AWS bekend gemaak dat MySQL 5.7 uitfasseer word en alles moet opgradeer word na MySQL 8.

Alleenstaande is dit nie 'n groot guitdaging nie, maar waar die probleme begin het is met die besluite wat in die verlede gemaak is. Die eienskappe van snellers is misbruik. Die karrakter-stelle was nie konstant gehou nie. gestoorde prosedures was erg misbruik. En al daardie besluite word nou saam gesleep en moet reg verhuis word. Die proses duur nou al maande, waar ek eers moet uitvind wat alles gedoen moet word, en dan om uit te vind soos ons aangaan, wat verkeerd loop en om te leer watter verwagtinge nie vervul kan word nie. Ons is nou aan die einde van 2023 en moet teen einde Februarie die proses voltooi het, andersins moet ons opgradeer na die verlengde ondersteuning teen 'n premie fooi.

Maar met die terugblik is ek ietwat dankbaar, want dit het my vorseer om die antwoorde diep te gaan haal. Gereeld het ek benoud geraak omdat dit lyk of van die probleme net ons s'n is. Elke keer moet ek die dokumentasie ordentlik raadpleeg, en dan uitpluis wat die pad vorentoe is. Daar is nog 'n paar goed om klaar te maak, maar ek dink ons is meestal daar. Die grootste pyne is die onsekerhede van wat verkeerd kan gaan wanneer ons wel die verandering in produksie gaan aanbring. Dit is nou maar iets vir vroeg in die nuwe jaar.

Betroubare Gereedskap

In die uitdaging vir die MySQL 8 migrasie het ek vas vertrou op Lisp in die vorm van Babashka. Alles wat ek nodig het is ingebou, of ek kon dit byvoeg deur middel van pods. In hierdie geval het ek net die MySQL pod gebruik.

Wat hierdie so behulpsaam gemaak het is dat dit my in staat gestel het om die gereedskap te vorm soos ek aangaan, en te verander soos dit nodig is en dan te verbeter. Dít alles terwyl daar geen stop en oor-begin nodig is nie. Iets wat ander ontwikkelings platforms nou nie juis op hierdie vlak kan ondersteun nie.

Elke keer wanneer ek gedwing word om TypeScript te gebruik, sak my moed in my skoene. Daar is soveel fieterjasies en stront aan verbonde om iets te doen dat dit nie eers 'n grap is nie. Maar laat ek nie te veel uitbrei nie.

Ten minste het lisp/babashka/clojure my jaar positief gemaak.

2024?

Nuwe jaar, nuwe uitdagings. Kom ons kyk wat gebeur.


Tags: gesondheid joernaal aws inflasie denke boeklees 2023 thoughts


Copyright © 2023 Johan Mynhardt
Powered by Cryogen
Theme by KingMob